Selekteer vir vrugbaarheid en die res sal volg

 

(Deur Mnr Reinie Rusch van die Lichtenstein Simmentaler Stoet by Windhoek  en vir 31 jaar raadslid van die Simmentaler Telersvereniging van Suidelike Afrika.  Met erkenning aan die 2003 Simmentaler Joernaal )

Hierdie gedagte klink amper soos die gesegde "alles sal regkom“.  Elkeen van ons het al gehoor en gelees dat vrugbaarheid baie meer belangrik is as melkproduksie en nog baie meer belangrik as groei en vleis eienskappe.  Lees maar ons Genootskap se "SIMMENTALER REGISTER“ – dit staan feitlik in elke uitgawe, die resultaat van talle studies op faktore wat winsgewendheid in beesboerdery bepaal. 

Hoë vrugbaarheid, optimale hoeveelheid kalwers per produktiewe leeftyd van 'n koei het 'n baie positiewe invloed op inkomste.  Die resultaat lyk dus belowend maar hoe selekteer ons werklik intens vir vrugbaarheid en wat is die invloed op ander produksie eienskappe van ons kudde. 

Die erfbaarheid van vrugbaarheid is baie laag, derhalwe moet 'n regime van "zero tolerance“ gevolg word teenoor enige dier wat vir watter rede ook al nie die mas opkom nie. 

Bulle moet struktureel korrek wees om funksioneel doeltreffend te kan wees.  In tipe behoort hulle ietwat vroegryp, middelmatig groot en baie sterk bespierd te wees en moet hulle manlik vertoon.  Goeie testis ontwikkeling vir genoegsame goeie gehalte spermaproduksie, baie libido en die vermoë om koeie behoorlik te kan dek is 'n vereiste. 

Die seleksiedruk ten opsigte van vrugbaarheid behoort egter op die koeikudde toegepas te word, en wel so dat meer vrugbare diere beter kan presteer as ander.  Dit help nie om omstandighede so te skep, dat elke dier die paal haal. 

Selekteer verse só vir vrugbaarheid

Kom ons begin by verse.  Elke teler in elke area het sy eie kriteria waarvolgens 'n vers die eerste keer gedek behoort te word.  Hoe vroeër hoe beter, maar onthou, met 'n beleid van "zero tolerance“ is daar nie so iets soos oorslaan nie.  Maak seker die vers is volwasse genoeg om tot die einde van haar "loopbaan“ elke jaar een keer te kalf.  Goed gegroeide verse met regte massa en ouderdom behoort saam met koeie van alle ouderdomsklasse aan die begin van die dekseisoen saam by die bul geplaas te word.  Na nie meer as 42 dae word die verse van die bul weggevat.  Almal wat dan nie dragtig is MOET uit die kudde geëlimineer word.  Hierdie stap is 'n voorvereiste vir streng seleksie op vrugbaarheid.

Wanneer verse dan kalwe begin die regte wedloop eintlik eers.  Hulle moet 'n kalf versorg en wel so dat hulle 'n kalf speen en weer binne 90 dae dragtig raak om te kan voldoen aan die so belangrike "elke jaar 'n kalf’ beginsel. 

Daar is al baie gesê oor die behandeling van eerstekalf koeie.  Indien enige voorkeurbehandeling,  gee dit aan almal – anders versteur jy die "regverdigheid“ van die wedloop.  Uit ondervinding blyk dit die beste te wees dat ook eerstekalf koeie dieselfde behandeling behoort te kry soos die res van die kudde.  Ons skep so die tweede en mees belangrike okasie om streng te kan selekteer.  Ook elke eerstekalf koei wat na 'n dekseisoen van ±90 dae nog nie dragtig is nie, moet uit die kudde geëlimineer word.

Makliker gesê as gedoen!  Wat van droogtes, wat van dit wat van dat.  As die beleid moet slaag moet ook hier geen kompromie aangegaan word nie.  In uiterste gevalle slag 'n mens soms amper 50% van hierdie ouderdom klas koeie.  Wees positief – 50% haal dus nog altyd die paal.  As die projek slaag het 'n mens later in elk geval so baie vervangingsverse dat van hulle 'n groot klompie uitgeskot moet word om getalle konstant te hou.

"Geen-verskoning-beleid"

'n Verdere aspek wat deurgans aandag moet geniet is dat enkele diere nie bevoordeel word nie.  Dit is belangrik dat elke koei wat weer by die bul gesit word 'n kalf soog.  As die kalf wegraak – koei se "skuld“ of nie – moet sy uitgeskot word, anders word sy bevoordeel tov die res van die kudde.  Al is ons hoe ongelukkig of ontstoke oor die kalf wat die luiperd gevang het, wat in 'n gat geval het, moet die moeder maar slagpale toe.

Dit is duidelik dat geslagsiektes ook op hierdie projek 'n ernstige inbraak maak.  Die voordeel is dat dit baie vinnig opgemerk en geëlimineer kan word.  Skoue?  Manlike diere kan ten alle tye geskou word.  Vroulike diere wat voorkeurbehandeling gekry het, het geen plek in die projek.  Voeding het 'n sterk invloed op vrugbaarheid en omdat skoudiere beter gevoer word, word hulle bevoordeel.  Word skoudiere net op 'n jong ouderdom gevoer, sal hulle 'n bo normale groot raamwerk ontwikkel wat hom later negatief sal uitwerk. 

Die seleksieproses bly van nou af tot op datum van uitskot weens ouderdom maar dieselfde.  Elke jaar 'n kalf na 'n dekseisoen van 90 dae.  Geen koei by die bul sonder 'n kalf.  'n Mens sal agterkom dat persentasiegewys al hoe minder koeie uit dieselfde ouderdomsgroep uitval.  Jy bly met jou werklik aangepas en produktiewe diere oor. 

Uitskot weens ouderdom is weereens 'n tydstip wat van baie faktore afhang.  Belangrik is om na die tande van die diere te kyk.  'n Dier sonder redelike snytande kan nie behoorlik wei nie.  Jy doen haar 'n onreg aan om te sukkel nadat sy hard vir jou gewerk het.  Suiwer uit 'n genetiese oogpunt gesien is dit belangrik dat die generasie intervalle nie te lank raak nie, anders is vordering minder.

Die resultaat van "zero-tolerance" seleksie

Die gebruik van geskatte teelwaardes tov belangrike produksie eienskappe soos geboortemassa, melk maar ook groei tot speen en ook daarna het 'n onontbeerlike seleksiehulpmiddel oor die hele wêreld geword.  Tans word daar ernstig gekyk na teelwaardes tov vrugbaarheid.  'n Saak wat nie so maklik is nie omdat vrugbaarheid deur so baie faktore beïnvloed word, direk en indirek. 

In Suider Afrika is BLUP waardes egter eers onlangs in gebruik geneem en kan daar geen sprake wees dat daar al volgens hulle geselekteer is.  Op die oomblik reflekteer hulle slegs die status van die nasionale kudde en ook van elke individuele kudde teenoor die nasionale gemiddeld.  Hoe verbaas was ons nie om op te let dat 'n kudde wat vir nagenoeg 20 jaar onder uiters ekstensiewe toestande geselekteer was alleenlik op die basis vrugbaarheid "zero tolerance“ volgens die persentiele vir die jaar 2000 gebore kalwers die volgende behaal het:

Gemak van kalwing  0.0  =  40 – 50% boonste gedeelte van die nasionale kudde
200 dae gewig 16.3 kg = 10 - 20% van die beste van die nasionale kudde
400 dae gewig 23 kg = 10 -20% van die beste van die nasionale kudde

600 dae gewig 32.4kg = 10 – 20% van die beste van die nasionale kudde

melk 7.1 kg = 5 – 10% van die beste van die nasionale kudde

Kommentaar

Verwonderlik!  Ja, maar verklaarbaar.  Met dié seleksieprogram selekteer 'n mens vir diere wat uiters aangepas is aan die omgewing waarbinne hulle moet produseer.  Selekteer vir vrugbaarheid – ons Genootskap het al vir jare die wonderlike SIMPRO verslag – en alles sal regkom.  Ook die bankstaat.  Ons boer mos ook om geld te maak.

 

Die Simbra Beestelersgenootskap van Suidelike Afrika
2003 - 2007

W3Counter Web Stats