|
Voorsitter se Boodskap vir 2007 |
VERANDERING ‘N VOORVEREISTE VIR SUKSES
Inleiding
In vinnig veranderende besigheidsomgewings is die vermoë van ʼn organisasie, soos ʼn Genootskap, om verandering te bewerkstellig en om nuwe tegnologie in te stel en te aanvaar, ʼn voorvereiste vir so organisasie om oor die langtermyn suksesvol te wees. Tydige organisatoriese en strategiese reaksies op sulke veranderende omstandighede vereis egter dat daar by telers ʼn kultuur van vinnige aanvaarding en ondersteuning van ʼn Genootskap se pogings, sal wees. Verandering bloot ter wille van verandering dien egter geen doel nie.
Suksesvolle Genootskap
Aanpasbare en suksesvolle Genootskappe, soos Die Simmentaler/Simbra Genootskap (die Genootskap), het in die verlede en sal ook in die toekoms die regte goed op die regte tyd en op die regte manier verander om sodoende sukses te handhaaf en te verseker.
In minder aanpasbare en gewoonlik minder suksesvolle Genootskappe is weerstand teen verandering gewoonlik die norm. In die organisasies bestaan daar ʼn kultuur waarin verandering en/of die aanvaarding van nuwe tegnologie baie stadig en slegs met heelwat oortuiging sal plaasvind. Hierdie organisasies verkies om te volg eerder as om die leiers in die industrie te wees. Laag presterende Genootskappe het gewoonlik ook die volgende kenmerke:
Verdeelde interne omgewing. Met ander woorde daar bestaan groepe binne sodanige Genootskap wat dwars trek en nie saamwerk tot die voordeel van die hele groep nie.
Vyandigheid teenoor verandering en/of nuwe tegnologie en teenoor die persone of organisasies wat die verandering voorstaan of daarby betrokke is.
Leiersfigure binne die organisasie wat slegs sekere aspekte van die organisasie ken en verstaan en nie die geheelbeeld sien of die totaal in ag neem nie.
Die onvermoë van so ʼn Genootskap of sy telers om buite die bestaande (verouderde) stelsels en strukture te kyk na beter metodes en benaderings.
Om hierdie probleem kultuur te verander is gewoonlik moeilik aangesien persone geanker is in sekere waardes en gewoontes en emosioneel vasklou aan die ou en bekende.
Verandering
Die Genootskap was nog altyd innoverende denkers en leiers in die vleisbees-industrie. ʼn Genootskap wat nie bang is om verandering te bewerkstellig of om weg te breek uit verouderde en stagnante stelsels nie. Die Genootskap hanteer self reeds 7 jaar lank alle aspekte van die administrasie en die registrasie van diere, het in 1997 BLUP-teelwaardes in gebruik geneem en dit is reeds 5 jaar dat prestasietoetsing deur Breedplan hanteer word. In beide gevalle word tans ʼn meer doeltreffende en beter waarde vir geld diens aan ons telers gelewer. Hierdie Genootskap gebruik ook vir etlike jare al ′n moderne syfer verwante beoordelings- en keuringsstelsel. In die stelsels word daar, deur ′n span raskenners wat met die beste in die wêreld vergelyk kan word, gebalanseerd na die visuele en syfers gekyk. ′n Jaarlikse voorligtings besoek aan al die telers word ook deur hierdie raskenners behartig. ′n Uitgebreide stelsel van klubs en studiegroepe bevorder, deur hulle aktiwiteite, die Sim-rasse en die Genootskap op ′n baie doeltreffende wyse.
Dit word egter redelik algemeen aanvaar dat binne ʼn groep of gemeenskap, soos byvoorbeeld ʼn Genootskap, daar gewoonlik sowat 16 % persone is wat as draaikouse (“laggards” – lag behind) bestempel kan word. Daarteenoor sal 50% die vernuwing vroeg aanvaar en ʼn verdere 34% sal dit effens later aanvaar. Waarskynlik na opleiding, motivering of as die sukses van die nuwe tegnologie deur die vroeë aanvaarders bewys kan word. Ons kan dus aanvaar dat, selfs in ʼn suksesvolle Genootskap, daar om verskeie redes enkele telers sal wees wat nie die verandering en vooruitgang wil of kan aanvaar nie. Om sukses te verseker en hoë produktiwiteit te handhaaf is volle aanvaarding deur al die lede van die groep belangrik. ʼn Probleem bestaan egter in die sin dat daar ʼn verskil in die manier bestaan hoe die verskillende groepe benader moet word asook die aard van die kommunikasie en die tipe kommunikasiemetodes wat gebruik kan word. Laat aanvaarders se leermetode verskil ook van die van vroeë aanvaarders in die sin dat vroeë aanvaarders van wetenskaplike bronne gebruik maak vir inligting terwyl laat aanvaarders se hoofbron van inligting hulle bure of medetelers is. Dit spreek dus vanself dat die aanvaarding van nuwe tegnologie (bv. BLUP) deur ʼn spesifieke groepering binne ʼn Genootskap nou verweef is met die rol wat leiersfigure daarin speel en spesifiek die siening van die persone ten opsigte van vernuwing. Dit kan egter gebeur dat die leiersfigure, ten opsigte van sekere tegnologiese veranderinge, as draaikouse bestempel kan word. In so geval sal die hele gemeenskap se laat aanvaarders nie geredelik die vernuwing aanvaar nie en sal sodanige groepering mettertyd al hoe verder agter raak, gemeet teenoor daardie groeperings wat vroeë aanvaarders is.
Dit is belangrik om te besef dat hierdie sub-groeperings met verskillende tempo’s van aanvaarding nadelig inwerk op die produktiwiteit en vooruitgang van ʼn Genootskap en sy lede asook die eenheid wat binne ʼn Genootskap bestaan. Ons moet verder aanvaar dat die leerproses plaasvind deur aktiewe deelname (vroeë aanvaarders) en deur direkte waarneming (laat aanvaarders). Geleenthede moet dus geskep word waar die laat aanvaarders kan sien dat die nuwe tegnologie werk en dat dit suksesvol is.
Om vooruitgang deur verandering te bewerkstellig vereis ook die volgende:
Dit is belangrik om te weet wat aangaan in die organisasie en die industrie as geheel en hoe goed dit gaan relatief tot ander organisasies en industrieë.
Bevorder ʼn kultuur van trots en strewe na prestasie onder telers sodat die Genootskap op hoë vlak kan presteer.
Hou die organisasie reagerend (responsive) tot en deelnemend aan veranderende omstandighede, bewus van nuwe geleenthede, gevul met innoverende idees, bereid om voortdurend vaardighede en vermoëns te ontwikkel.
Verkry konsensus, beperk interne magstryde, aanvaar die gesag en besluite van die verkose raad.
Dwing etiese standaarde af.
Bevorder daardie veranderinge wat die Genootskap se prestasie sal verbeter.
Ten slotte
Verbetering in produktiwiteit hang nie net af van tegnologiese vernuwing nie maar ook van die volle aanvaarding van die tegnologie (verandering in die mens se siening van die tegnologie). Voldoende kennis en insig van die nuwe tegnologie help telers om probleme te identifiseer en te definieer en om sodoende oplossings te ontwikkel. Sonder hierdie kennis en aanvaarding van die tegnologie sal potensiële groei in produktiwiteit verlore gaan.
Die aanvaarding van verandering en van tegnologiese vooruitgang na nuwe stelsels, metodes en sienings, is egter ʼn proses wat baie pynlik kan wees afhangend van hoe sterk ons aan ons eie siening of idees vashou. Daar is egter selde iets wat nie verander kan word nie, behalwe miskien ons sienings oor sekere aspekte. Die probleem ontstaan as ons, ons eie siening as realiteit (die alfa en omega) aanvaar en nie toelaat dat enige persoon of proses hierdie protokol verander nie. Die mens se denke is egter die beginpunt van verandering, die verandering van vorige en verouderde denke is die beginsel waarom die wetenskap draai en is die basis vir die aanvaarding van tegnologiese vooruitgang. Verandering en die aanvaarding van die verandering is voorvereistes vir die daarstelling en ontwikkeling van suksesvolle Genootskappe. Dankie aan al die telers wat verandering aanvaar en hulle volle ondersteuning aan die Genootskap gee. Alle telers is egter belangrik. Daarom sal die Genootskap moeite doen om ook die draaikouse te oortuig dat, ter wille van vooruitgang en verhoogde produktiwiteit, sekere veranderinge noodsaaklik is.
Dr JF Kluyts
PAGE
UPDATED:
19/02/2007
Die Simbra Beestelersgenootskap van Suidelike Afrika
2003 - 2007